Wanneer die meeste mense nog slaap op 'n Saterdagoggend is die Pioniersmuseum se terrein reeds 'n miernes van bedrywighede. Boeremarkuitstallers kry hulle stalletjies gereed met vars groente, vrugte, vleis, gebak en mooi handwerk items net vir jou. Teen 05:30 is die eerste gereelde kopers al met hulle inkopies vir die week doenig.

In die winter, gepantser teen die koue met musse en handskoene en koplampe, word van vuurtjie na vuurtjie getrek om produkte te koop. Na die inkopies is dit tyd om te kuier by koffiestalletjies. Daarna is dit tyd vir die lekkerste koffie, melkkos of pap en kaiings. Of miskien 'n muffin, roosterkoek, jaffel of vetkoek?

Die somer bring vroeg lig en in die koelte onder die bome by die dam geniet oud en jonk dit om die gansies en eendjies te voer. As die kalkoene kom kos bedel moet jy weet dis amper die einde van die dag se mark!

Die Boeremark is 'n gesinsmark en 'n kuiermark en die gewildheid van die mark is voorwaar 'n pluimpie vir die produsente en TLU SA. Doen jouself gerus die guns om net een Saterdag vroeg uit die vere te klim en te kom kuier by die Boeremark, jy gaan verseker dit weer met 'n opgewondeheid wil doen!