TLU SA het 1992 baanbrekerswerk gedoen met die vestiging van 'n Boeremarkkonsep wat landswyd in verskillende vorms toegepas word. Die konsep berus op 'n verkorting in die prysketting tussen die produsent en die verbruiker, wat tot beide partye se voordeel strek.              

Die Boeremark word reeds vir twintig jaar suksesvol aangebied. Duisende verbruikers stroom Saterdagoggende na die mark om plaasprodukte by die produsente te koop. TLU SA verrig op hierdie wyse 'n welkome diens aan die produsent, sowel as aan die publiek wat die geleentheid aangryp om bekostigbare voedsel te bekom.

Sedert Januarie 2004 word die Boeremark elke Saterdag gehou tussen die bome op die ou plaas Hartebeespoort wat vandag bekend staan as die Pioniermuseum. Met 'n opstal uit 1848 en wat omring is deur 'n tradisionele kruietui, 'n groentetuin, 'n vrugteboord en 'n wingerd skep die perseel 'n rustige en landelike atmosfeer wat die mark uitstekend komplimenteer.